| | | | |
| | | | NG Gemeente Knysna :: Leef Sy Liefde |
| |
BEGIN 'n STROOM
Uit John se Brentonpen
Ken jy daai gevoelte – so êrens tussen magteloos en moord?
Jy’s haastig. Gryp die plastieksakkie met goedere en laat waai na die supermark se deur. En dan, reg in die uitgang staan hulle dik stukke en gesels. Salig onbewus dat jy nie kan verbykom nie.
Of dit was 'n mal dag op kantoor. Jy wil so graag net by die huis kom, selfs grassny sal soos vakansie voel. Skielik blou ligte, rooi ligte! 'n Ononderbroke tou motors wat stamper teen stamper staan en teensinnig uitlaatgasse snuif. Doer voor, beduie iemand in 'n kort suurlemoenkleur baadjie daar’s 'n versperring en vir jou geen verbykomkans. Vasgekeer!
Of daar’s die anner soort. Jy’s feitlik by die voordeur, die gholfbaan, gym of coffeeshop wink. Meteens 'n benoude uitroep êrens in die huis wat 'n verstopte drein aanmeld. Daai voorgenome goed gebalanseerde afslaanswaai word aangepas om 'n suig en pomp aksie te bemeester voordat jou duur sportskoene heeltemal versuip in 'n onooglike, onwelkome en onwelriekende moerasplas.
Sulke oponthoude, ontwrigtings of blokkasies is meestal nie 'n lekker ondervinding nie en is gewoonlik buite ons beheer. Maak ek en jy ons dalk skuldig aan ontwrigting en blokkassies? Of kan dit wees dat ek 'n voorreg onderskat en sodoende ander van hoop ontneem weens versperrings waarop my en jou naam pryk.
Dit is sekerlik nie ontmoontlik dat ek of jy of ons as groep 'n obstruksie kan veroorsaak nie. Ja, soms onbewustelik of met goeie bedoelings. As christene, as lidmate van die Here se kerk, het elkeen, net soos die ledemate van die liggaam, 'n taak om te verrig. Alleen dan kan die gemeente as 'n eenheid funksioneer volgens die wil van God. Daar word nie meer geheime agente benodig nie. Om slegs met passie en toewyding te praat slaag nie. Jou geloof groei en behaal meer oorwinnings as dit na werkwoord status opgradeer word.
As iemand 'n vinger of erger nog 'n been, arm of oog verloor, is dit moelik vir so'n persoon om oor die weg te kom. So ook kan die kerk, Christendom, gemeente moeilik sy doel bereik as 'n lidmaat nie betrokke of net voorwaardelik bereid is om diensbaar in Sy koningkryk te wees nie(1 Kor. 12: 27)
Ongelukkig is daar dikwels 'n probleem - 'n grote. Ek! Die belangrike eie ek.
My mikpunte, my planne, my voorbehoude, soveel prioriteite en krississe! Ek kom nie by alles uit nie.Te besig, sorree, het net nie tyd nie. Talente moet gebruik word en dit is reg so. Dit word verwag. Maar sê my onberokkenheid dan nie vir die Gewer van alles ‘Wag, moenie my nou pla nie. EK wil eers MY aardse koninkryk regkry.’ Of wat sê (Matt 6:33) nou weer?
Maar maak 'n besige program en verskonings enige sin as ek myself in die proses van 'n voorreg ontneem. Dikwels smag mense na die voorreg om met 'n bekende sportpersoon, politikus, of filmster te gesels. Voorreg? Hoe vergelyk die glorie en opwinding van so'n oomblik, hoe betekenisvol ookal, met my waardering van die ontmoeting met my Skepper eendag wanneer my aardse reis eindig?
Maar wat van vandag, die hier en nou? Hoeveel groter sal die geleentheid wees om nou reeds met die Skepper van hemel en aarde kontak te maak. Die God wat in beheer is van die heelal. Op hierdie aarde is ek maar een van so agt biljoen mense wat vandag nog hier is en môre verdwyn. Nogtans is hierdie almagtige God binne my bereik (Ps 46:10). Wat 'n voorreg is dit nie! Hy is net 'n gebed ver op enige tyd of enige plek en in enige taal. Wat 'n voorreg kan dit wees om tot Hom te nader, met Hom te gesels en 'n verhouding met Hom op te bou. Oortref dit nie al die ander opsies nie? Jy praat met iemand wat omgee, jou lief het, vir jou gesterf het en wie beloof het om jou nie te verlaat nie.(Heb 13.5)
Waarom raak control freak en selfgemaakte suksesse spog simbole? Miskien vergeet ek te maklik wie Hy is en dat alles wat ek ontvang het deur Sy genade is. Ek is maar net 'n stippeltjie wat op eie krag koorsagtig rondjaag. Die Here sê wees rustig, relax, hou op om jouself te sien as die middelpunt van die heelal.(Matt 11:28)
Eina, dit kos 'n kopskuif. Jesus leer my om ander se behoeftes eerste te stel en nie net my wenslys te highlight nie. Wat is my kans om met die Amerikaanse president, die Britse monarg of selfs met ons eie president te gesels? En tog.... mag ek met Jesus kommunikeer. Enige tyd, Hy het al die tyd in die wêreld. (Markus 11:24)
Gebed is 'n voorreg en nie 'n werk nie. Iets om na uit te sien, te waardeer en te benut. Die Here gee selfs vir ons 'n gebed naamlik die Onse Vader (Matt 6 8-13). Gebed leer ons om te verstaan watter rol God van ons verwag waar ons is.(Efes 3: 16-21)
God wil ons graag die lewe gee, voorspoed en nie teëspoed nie. Daarom is gebed 'n kragtige manier om God se wil vir my lewe te soek. Dan kan ek, gevoed deur die Christusbron, die boodskap van Sy gesindheid, liefde en genade laat vloei na my huisgesin, familie, vriende, die dorp. Ja wêreldwyd, selfs oor vyande en vrese.
Dit laat my soos altyd met 'n keuse. Vir God of teen God. (Matt 12:30). Verkies ek om te versper en te blokeer. Of gaan ek 'n plan maak om Jesus se voorbeeld en manier van doen 'n lewenswyse te maak, wat soos 'n stroom al wyer en sterker vloei sodat meer mense (Spreuke 27:17) van ons hemelse Vader bewus word soos Hy sigbaar word deur my dade?
|
|
|