WAT GLO ONS
Ons is 'n Gereformeerde kerk gebou op die Here se Woord en wat die Drie Formuliere van Eenheid (Die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dortse Leerreëls) onderskryf.
Lidmate bevestig dit met die mond by hulle belydenis van geloof en wanneer hulle as Kerkraadslede bevestig word of wanneer hulle hulle kindertjies laat doop.
- Doop
Die doop is die teken van God se genadeverbond met ons. Daarom word mense wat nog nooit van die Here gehoor het nie, gedoop as hulle tot geloof in die Here en tot bekering kom. So doop ons ook volwassenes wat hulle uit die heidendom tot die Here bekeer.
Omdat die doop die teken is van God se genadeverbond met sy kinders en omdat hierdie verbond kindertjies van gelowiges insluit, doop ons ook die kinders van gelowige ouers.
- Lidmaatskap
Persone wat elders 'n lidmaat van 'n kerk of gemeente was, kan hulle as voornemende lidmate aanmeld deur die nodige aansoekvorm in te vul en by die kerkkantoor in te handig.
Persone wat nog nooit belydenis van geloof afgelê het nie meld hulleself by hulle wyksleraar aan. Hy sal aan hulle die nodige inligting gee oor watter voorbereidende kursusse hulle moet aflê en die verdere proses begelei.
Kinders wat in hierdie gemeente gedoop is of wie se ouers hulle bewys van dooplidmaatskap na hierdie gemeente oorgeplaas het, is volwaardige dooplidmate met toegang tot die Nagmaal.